Tuli Articles | Dis Lekker En Lonend Om Met Tuli-beeste Te Boer

Dis Lekker En Lonend Om Met Tuli-beeste Te Boer  GO BACK
Author: ProAgri    Publication Date: 04 December 2015


Ek sal nie weer met ’n ander soort bees boer nie.”
So sê oom Dapper de Wet van Rouxville, wat so twaalf jaar gelede begin het om sy kruiskoeikudde algaande met goeie Tuli-bulle op te gradeer na beeste wat hom die hoogste inkomste per hektaar in ruil vir die minste moeite gee.

Tuli is maklik om mee te boer, sê hy. Met hulle kort hare sit hulle hulle teë teen bosluisbedreigings, hulle word nie maklik siek nie, hulle het ’n lae voerbehoefte, hulle is selfversorgend en hulle hanteer maklik.

Hulle is baie aanpasbaar en aard letterlik oral in die land; ook op die suurveld en in die koue winters van Rouxville. En boonop is hulle nog mooi ook.

Colin Warren van Grahamstad is ewe ingenome met die Tuli se aanpasbaarheid. Daar by hom op die semi-Karooveld met bietjie soetveld op die vlakte en suurveld in die berge, gee hy net ’n bietjie hoendermis by vir fosfaataanvulling en daarmee produseer sy Tuli’s eersteklas.

Sy buurman en die persoon by wie hy sy eerste Tuli’s gekoop het, Dave B Pohl, van die plaas, Tea Fountain, het meer as vyftien jaar gelede sy eerste Tuli’s uit Oos- Transvaal gekry en ook Tuli-bulle op ander rasse begin gebruik.

Hy is ingenome met die resultate. Sy Tuli’s presteer uitstekend op die Karoo-bossieveld, hulle is gehard en op die oomblik is hulle besig om te midde van ’n ernstige droogte te kalf – sonder oorslaan of probleme.

Alhoewel Tuli-verse vroegryp is, verkies Dave om hulle eers op tweetandstadium te laat dek. Hulle het geen kalwingsprobleme nie, en leef en presteer lank.

Die voerkrale is baie tevrede met die prestasie van sy Tulispeenkalwers. Daar is ’n groot aanvraag vir Tulibeeste, sê Colin, want dit is werklik winsgewend en lekker om met hulle te boer omdat hulle so mak is en so min aandag verg. Hulle sorg vir hulleself. Hy het pas 20 verse aan ’n koper uit Natal verkoop.

Die poenskopeienskap is sterk oorerflik in die Tuli-ras en al Colin se Tuli’s is natuurlike poenskoppe. Die Tuli is so selfversorgend dat ’n mens amper kan sê hulle boer self, sê oom Dapper de Wet. Hulle is baie vrugbaar, slaan nie sommer oor nie en ’n mens hoef jou nie tydens die kalfseisoen te bekommer en knaend te gaan kyk of daar probleme is nie.

Hulle kalwers is wel effens ligter as sommige ander rasse s’n, maar die Tuli lewer beslis vir hom meer kilogram vleis per hektaar. Oom Dapper verkoop ook sy bulkalwers aan voerkrale, maar hy maak ook so af en toe ’n os groot vir eie gebruik. Hulle slag goed uit en hulle vleis is besonder sag en smaaklik, sê hy.

Vir kruisteelt is Tuli die antwoord, sê Dries Wiese, ’n bekende skaapteler van Loxton. Hy het ook 120 koeie van verskillende soorte waarop hy verskillende soorte bulle probeer het en Tuli het die heel beste resultate gelewer. Die pragtige, swaar mediumraamspeenkalwers van die Tulibul pas uitstekend aan, vertel hy.

’n Belangrike voordeel wat die kommersiële beesboer geniet, is die feit dat die Tuli-telers werklik moeite doen om genetika te teel wat presies aan die behoeftes van die kommersiële boer voldoen.

As jy meer inligting wil hê oor die bees wat boerdery lonend en lekker maak, praat met die Tulitelersgenootskap se mense by 051 410 0958 of besoek www.studbook.co.za/society/tuli

Dokumente om af te laai

# Naam Beskrywing
1. Dis Lekker En Lonend Om Met Tuli-beeste Te Boer ProAgri, 19 Desember 2009 (PDF 574 KB)
  Links kliek die dokument naam om die dokument te besigtig of Regs kliek die dokument nam en kies Save Target as... om die document af te laai.



ARTICLE INDEX  BACK TO TOP

© Tuli Cattle. All Rights Reserved.
No article or picture may be reproduced\published
without the written consent of Tuli Cattle.