Tuli Articles | Tuli-beeste vra min en gee baie

Tuli-beeste Vra Min En Gee Baie  GO BACK
Author: ProAgri    Publication Date: 04 December 2015


Tyd en insetkoste is dié twee faktore waarop 'n boer kan en wil bespaar en al hoe meer kommersiële boere begin besef dat Tuli-beeste dit moontlik maak.

Die aanpasbaarheid van dié beesras wat in 1976 uit die opgeteelde moederkudde van die destydse Rhodesië af na Suid- Afrika gebring is, het gou gesorg dat plaaslike telers en kommersiële boere begin belangstel het.

Tuli's floreer in alle toestande, van die duineveld in Namibië, deur die warm bosveldstreke tot op die sneeubedekte Drakensberge; van Australië tot Kanada en in die warm tropiese dele van Zambië.

Die aanpasbaarheid vind neerslag in eienskappe soos vrugbaarheid en gehardheid. Martiens Nel van die plaas, Rietfontein, naby Lydenburg, het Tuli-bulle op Drakensberger-tipe koeie gebruik. Hy was baie verbaas met die resultaat en veral beïndruk toe die voerkraaleienaar wat sy speenkalwers gekoop het, hom ’n premie aanbied op die volgende geslag speenkalwers.

Hy het besluit om sy hele kudde op te teel na Tuli’s en het agtergekom dat die kalwers wat al driekwart Tuli is, dalk nie so swaar soos die eerste kruise is nie, maar dat die vroulike diere wel vrugbaarder en meer gehard word.

Hy sê: “Die koeie hou ook baie goed kondisie en gedy veral in koue winters.” Martiens meen die Tuli voldoen aan die leuse “Die vrugbare veldbees”.

In die omgewing van Oranjeville het Emile de Klerk ook verstommende resultate met Tuli-bulle op sy Charolaiskoeie behaal. Hy sê: “Ek het nou ’n kudde op-en-wakker diere wat
makliker loop, minder wollerig is, met vroegryp verse en maklike geboortes.”

Vir Willie Wabeke van die plaas, Destination, 20 km noord van Onderstepoort, is maklike kalwing ook ’n groot pluspunt. Hy het paar jaar gelede begin met Brahman-/ Simmentaler-kruiskoeie. Hy het verskillende bulle gebruik in ’n verdere kruisteelprogram. Willie sê hy het in die begin baie probleme onder-vind met kalftyd en tot 30% kalfvrektes gehad. Aangesien hy ook ’n saak in Pretoria het, kan hy nie gedurig koeie oppas wat moet kalf nie. Hy het toe Tuli-bulle begin gebruik en nou hoef hy geen kalwers te trek nie. Die kalwers se vermoë om te oorleef is ook baie beter.

Hy sê die bulle se temperament is vir hom ook ’n pluspunt. “Hulle is nie draadspringers nie. Hulle pas die koeie op en hou hulle bymekaar, wat help dat hulle nie koeie mis wat op hitte kom nie.”
 
Hy voer en laat slag ook van die kalwers self, en op so 372 dae slag hulle gemiddeld 225 kg uit.

Nog ’n deeltydse boer wat veral begaan is oor die Tuli's se gehardheid, is Sagrys van der Merwe wat elke dag 120 kilometer ver van sy plaas af ry om in Nelspruit te gaan werk. “As ek in die middae by die huis kom, wil ek tussen my beeste gaan ontspan. Hulle is my terapie en nie ’n werklas nie.”

Hy gaan so ver om te sê dat die Tuli's eintlik immuun is teen wanbestuur. Hy doseer glad nie, dip so een maal elke twee maande en hou net dop om te kyk of sy beeste gesond is. “’n Bees sê mos gou vir jou as hy siek is.”

Eugene Ehlers van die plaas, Doornkloof, naby Loskopdam, boer met 300 Tuli-koeie wat hy met Tulibulle dek en in die Hoëveld naby Machadodorp met 300 Bonsmaratipe-koeie wat hy met Bonsmara-bulle dek, en hy gebruik Tuli-bulle om die verse mee oop te maak.

Wat vir hom belangrik is, is die feit dat Tuli-bulle die poenskopfaktor sterk oordra. Hy het op ’n keer net 12 verskalwers uit 140 se horings gebrand waar hy Tuli-bulle op Bonsmaratipe-koeie gebruik het.

Hy het al vantevore met verskeie Afrikarasse geboer omdat hulle so gehard en aanpasbaar is, minder vatbaar is vir bosluise en goed kan bergklim. Hy verkies egter die Tuli aangesien die voerkrale in sy omgewing graag Tuli’s koop omdat hulle swaarder weeg by speen en beter groei. Hulle het ook baie laer vrektes in voerkrale as Europese rasse. Hy sê al wat hom bekommer, is dat bulle nie so geredelik bekombaar is nie. “Hier is beslis ’n
geleentheid vir voornemende telers.”

Een van die geheime van die Tuli se sukses is dat die kernkudde van Rhodesië in redelike isolasie ontwikkel is en dat die beeste dus oor unieke genetiese eienskappe beskik, wat uitstekende basterkrag lewer.

Om uit te vind waar u Tuli's kan bekom, skakel vir:
Alwyn Marx 083 448 7870,
Stefan van Wyk 082 381 7563,
Russell Clark 082 925 5860 of
Stefan Welz 082 330 0798.

Documents To Download

# Name Description
1. Tuli-beeste Vra Min en Gee Baie ProAgri, 16 September 2009 (PDF 100 KB)
  Left click the document name to view the document or Right click the document name and Select Save Target as... to download the document to your computer.



ARTICLE INDEX  BACK TO TOP

© Tuli Cattle. All Rights Reserved.
No article or picture may be reproduced\published
without the written consent of Tuli Cattle.